Krisisberaad Mosies

Klik hier om die mosie af te laai

Die volgende besprekingspunte word aan die Beraad voorgehou vir besluitneming:

  1. Mosie van wantroue in President Zuma se regering

Die Beraad neem kennis dat:

  • Suid-Afrika nog lank nie ‘n vervalde staat is nie, maar dat belangrike dele van die staat in ‘n proses van verval is soos die meeste openbare skole, talle staatshospitale, baie munisipaliteite, en verskeie staatsdepartemente en regeringsinstellings. Onder die regering van mnr Zuma is daar groeiende tekens dat die agteruitgang in die land besig is om momentum te kry, en word sy bewind gekenmerk deur korrupsie, swak regering en ‘n gebrek aan leierskap.
  • Die Zuma regering al meer tekens toon dat hulle meerderheidsregering oorgaan na meerderheidsoorheersing. Dit kan daarin gesien word dat Grondwetlike gesag deurlopend ondergeskik word aan politieke mag, dat die grondwetlike skikking onder sy bewind op ‘n glybaan na ‘n gewone “wenner vat alles” bedeling beweeg, en dat die demokratiese ruimtes vir kultuurgemeenskappe al kleiner krimp.

Die Beraad is van mening dat:

  • Die belangrikste rede vir die toenemende staatsverswakking te wyte is aan die regering se staatsideologie van Transformasie, wat in wese ‘n ondemokratiese en ongrondwetlike strewe na meerderheidsoorheersing gegrond op ‘n uitgediende rasse nasionalisme en onwerkbare sosialisme is.
  • Hoewel Suid-Afrika histories nog altyd groot uitdagings gehad het, die hoofoorsaak van die agteruitgang die groeiende onvermoë van die regering is om die land te regeer, en dat mnr Zuma die skuld vir die probleem probeer verplaas deur sondebokke te soek te te blameer.
  • Die hele land lei onder die gevolge van die swak regering, en dat die onlangse aanvalle op vreemdelinge en standbeelde tekenend is van die bevolking se groeiende frustrasie wat ‘n verplaaste uitlaatklep soek.

Die Beraad ondersteun:

  • die aksies wat die Solidariteit Beweging neem om die gevolge van staatsverswakking en swak regering te versag, soos om die regsorde te versterk, munisipale verval teen te werk, misdaad te bekamp en mense se werk te beskerm. Daar sal egter nog baie meer gedoen moet word sodat ons lede en gemeenskap blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan.

Daarom besluit die Beraad dat:

  • ‘n Mosie van wantroue in mnr Zuma se regering aangeneem word;
  • Die Beweging ‘n spesiale Taakspan moet aanstel om ‘n omvattende strategie uit te werk sodat Afrikaners ook blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika kan voortbestaan, tot voordeel van die land en al sy mense.
  1. Die groeiende staatsinmenging in die privaatsektor onder die dekmantel van BEE

Die Beraad neem kennis dat:

  • Die privaatsektor die dryfkrag is van die land se ekonomie wat die vernuwende dienste en produkte moet lewer wat die bevolking nodig het en wat menslike vooruitgang bevorder, in die proses werk skep sodat werknemers met hul vergoeding hulle gesinne kan versorg, die staat en openbare dienste met belasting onderhou, die land ontwikkel, en ‘n billike wins moet maak sodat beleggers soos werknemers se pensioenfondse kan groei en ondernemers aangemoedig kan word om die ekonomie groter te ontwikkel;

Die Beraad is van mening dat:

  • ‘n Gesonde sakesektor ‘n voorvereiste is vir ‘n gesonde land en ‘n voorspoedige werksmag;
  • die welstand van die land afhanklik is van ‘n goed betaalde, hoogs opgeleide en produktiewe werksmag;
  • die privaatsektor die ekonomie ten beste kan laat groei as die regering nie onnodig inmeng met meer- en strenger wette wat besighede en werkskepping strem nie;
  • die regering nie onhaalbare beloftes maak en dit nakoming daarvan op die privaatsektor afskuif nie;
  • geen ekonomie kan groei as die regering teen die sakesektor regeer nie;
  • werklike ekonomiese vryheid ‘n voorwaarde is vir burgerlike en politieke vryheid;
  • die aantasting van burgerregte soos eiendomsreg die begin van die ondergang van Zimbabwe was;
  • toenemende rassewetgewing ondernemerskap ontmoedig en ondernemers en maatskappye landuit dryf en vaste buitelandse én binnelandse beleggings ontmoedig.

Die Beraad steun die beleid van die Beweging:

  • om die Markekonomie te beskerm;
  • om standpunt in te neem teen groeiende rassevoorskrifte wat die sakesektor strem.

Daarom besluit die Beraad dat:

  • Die Beweging alles in sy vermoë moet doen om saam met markgerigte instellings die markekonomie en ware ekonomiese vryheid te bevorder;
  • Die bedreiging van die Regsorde in die algemeen en van Eiendomsreg in besonder teen te staan.
  1. Gemeenskapsmedia

Die Beraad neem kennis dat:

  • Die media ‘n bepalende rol te speel het in ‘n vrye samelewing;
  • Die Beweging grootliks afhanklik van die Media is om ons boodskap van groeiende selfstandigheid uit te dra;
  • Die media verdeel kan word in Staats- of Openbare media soos die SABC, die kommersiële media soos die Musiek radio’s en Media 24;
  • Die Gemeenskapsmedia soos Maroelamedia, Gemeenskapsradio’s soos Radio Pretoria en die Beweging se eie media;

Die beraad is van mening dat:

  • Daar geldige kommer bestaan oor die risiko’s wat staatsbeheer oor die SABC inhou;
  • Die kommersiële media oorwegend nie op die Gemeenskapsektor ingestel is of simpatiek teenoor Afrikaner- en Afrikaanse belange is nie;
  • Gemeenskapsmedia uitgedaag word deurdat hierdie sektor nie staatshulp soos die openbare media kry of aandeelhouerskapitaal soos die kommersiële media nie;
  • Die Gemeenskapsektor vorentoe al hoe belangriker vir die land en ons gemeenskap gaan word;

Die Beraad ondersteun die aksies wat die Beweging reeds hieroor neem:

  • Ter ondersteuning van Mediavennote soos Maroelamedia;
  • Ter ondersteuning van Gemeenskapsradio’s soos Radio Pretroria;
  • Die bevordering van ander Gemeenskapsmedia;
  • Die uitbou van die Beweging se eie media.

Daarom besluit die Beraad dat:

  • Die Beweging goeie betrekkinge moet probeer handhaaf met die hele media;
  • Die Beweging daarmee moet voortgaan om ons eie Mediavennote uit te bou;
  • Die Beweging ons eie media deurlopend verder moet versterk.
  1. Owerheidskakeling

Die Beweging neem kennis dat:

  • Die werklikheid is dat die ANC die land regeer;
  • Die ANC tans die meerderheid mense in die land polities verteenwoordig;
  • Die regering ‘n bepalende invloed op die lewens van almal het;
  • Daar wesenlike verskille is tussen die regering en die Beweging as gevolg van die swak regering;
  • Dat die regering se siening om nasionale eenheid te verskraal tot inlywing by die meerderheid nie aanvaarbaar is nie omdat dit op ‘n opheffing van ons bestaan en lewenswyse neerkom.

Die Beraad is van mening dat:

  • Dit nie in die Beweging of regering se belang is dat hierdie verskille in openlike geskille ontaard nie;
  • Dit in belang van almal is dat daar wedersydse vertroue en respek in die land bestaan;
  • Die Beweging gesonde rassebetrekkinge moet bevorder en geleenthede vir samewerking moet ondersoek wat nie ons onafhanklikheid in gedrang bring nie;
  • Die gesprekke tussen die ANC en Afrikaners sedert 1994 nog op niks uitgeloop het nie, en van owerheidskant bloot ten doel gehad het om steun vir die ANC te werf in plaas van gesprekke in goeie trou om knelpunte te skik;
  • Die ANC tot dusver sy eie agenda deurgestoomroller het en onwillig was om na enige redelike versoeke vanuit Afrikanerkant te luister;

Daarom besluit die Beraad dat:

  • Die Beweging die deur vir gesprek moet ooplaat indien die ANC bereid is om in goeie trou te praat oor die knelpunte wat ons gemeenskap raak, op voorwaarde dat die gesprek in ‘n gees van wedersydse erkenning en respek plaasvind.
  1. Afrikaner eenheid en samewerking

Die Beraad neem kennis dat:

  • Afrikaners soos enige ander gemeenskap ooreenstemmende én uiteenlopende menings oor sake het;
  • Dit nie prakties is om te verwag dat almal met almal moet saamstem nie;
  • Dit waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie;
  • Daar ‘n strewe na groter eensgesindheid en samewerking moet wees, op voorwaarde dat dit bevorderlik is vir ons saak en nie indruis teen ons beleidsrigtings nie;
  • Van die vennootskappe wat die Beweging reeds met meer as twintig gemeenskapsorganisasies het op gebiede soos Onderwys, Taal, Opleiding, Kultuur, Landbou, Finansies, Erfenisbewaring, Selfstandigheid en ander gebiede.

Die Beraad is van mening dat:

  • Die grootste mate van ooreenstemming en samewerking net moontlik is as die ooreenkomste wat bestaan beklemtoon word en verdraagsaamheid teenoor verskille bestaan;
  • Daar ruimte moet wees vir verskillende standpunte sonder om te verwag dat almal mekaar se sienings moet deel;
  • Waar verskille bestaan mense steeds saamwerk waarmee hul saamstem, sonder om mekaar te beveg oor die punte waaroor daar nie ooreenstemming is nie;

Die Beraad ondersteun die Beweging se pogings ter samewerking:

  • Met Afrikaner Gemeenskapsorganisasies wat hulself as suksesvol bewys het, wat wesenlike steun het, met versoenbare standpunte, ‘n opbouende styl openbaar en wat bereid is tot groter samewerking;

Daarom besluit die Beraad:

  • Dat die Beweging se samewerkingstrategie verder verfyn en uitgebou moet word om ‘n magsblok te vorm wat die wil en vermoë het om besluite in gemeenskapsbelang te neem en uit te voer, en om waar nodig sinvol met die owerhede oor sake van belang te skakel.
  1. Die verskerping van rassewette onder die dekmantel van regstellende aksie
  • Die Beraad neem kennis dat:
  • Die staat sy beleid van rassekwotas versnel;
  • die beleid gebaseer is op die ideologie van verteenwoordigendheid waarvolgens ras die belangrikste en in die meeste gevalle die enigste kriterium by aanstellings en bevorderings is;
  • Eskom, te midde van die elektrisiteitskrisis, ʼn radikale rasseprogram aanvaar het wat nie meriete en vaardighede in ag neem nie;
  • Suid-Afrika die enigste land is waar so ’n groot meerderheid ten koste van so ’n klein minderheid “reggestel” moet word;
  • Daar volgens die Afro-Amerikaanse ekonoom, Thomas Sowell, nêrens in die wêreld ʼn voorbeeld is waar die land se demografie op alle plekke presies weerspieël word nie;
  • die staat se rassekwotas nie die land se vaardigheidspoel in ag neem nie;
  • “regstellende aksie” as gevolg van die vinnige verandering van demografie ʼn permanente verskynsel is; en dat
  • minderhede as gevolg van die staat se ideologie van verteenwoordigendheid in ʼn permanente staat van benadeling is.
  • Die Beraad is van mening dat:
  • Die staat se ideologie van verteenwoordigendheid negatief inwerk op dienslewering;
  • Eskom se rassebeleid irrasioneel tot nadeel van alle Suid-Afrikaners strek en die hele elektrisiteitsnetwerk in gevaar stel;
  • kwotas teenstrydig is met die Grondwet van Suid-Afrika en die Wet op Gelyke Indiensneming; en dat
  • die ideologie van verteenwoordigendheid teenstrydig is met die Verenigde Nasies se Konvensie oor die uitwissing van alle Vorme van Rassediskriminasie (CERD).
  • Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word, naamlik:
  • Hofsake teen die staat, semistaatsinstellings en maatskappye oor die ideologie van verteenwoordigendheid;
  • ondersteuning aan Solidariteit-verteenwoordigers in maatskappye waar regstellendeaksieplanne onderhandel word;
  • publikasie van boeke en artikels om die openbare mening te beïnvloed; en
  • opleiding van jongmense in skaars en kritieke vaardighede.
  • Daarom besluit die Beraad dat:
  • Solidariteit moet voortgaan om ʼn klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) te lê;
  • wye steun vir so ’n klag gewerf moet word;
  • voortgegaan word met ʼn hofaksie teen Eskom om sy beleid van rassekwotas op te skort;
  • voortgegaan word met ander hofaksies om die ideologie van verteenwoordigendheid te toets; en
  • voortgegaan word om maatskappye se planne en die openbare mening te beïnvloed.
  1. Die belangrikheid van goeie werk
  • Die Beraad neem kennis dat:
  • Die Amerikaanse meningsopname-instansie, Gallup, bevind het dat ’n goeie werk mense se grootste behoefte is;
  • ʼn goeie werk ʼn belangrike voorwaarde is om vry, veilig en voorspoedig te wees;
  • die vinnige verandering van kennis onsekerheid in die werkomgewing tot gevolg het;
  • groot strukturele veranderings in die ekonomie nuwe vaardighede verg;
  • groot maatskappye in kleiner dele opbreek en dat al hoe meer mense by klein en mediumgrootte organisasies werk;
  • die regering se ideologie van rasseverteenwoordiging minderhede, en veral wit mans, benadeel en hul toegang tot die arbeidsmark bemoeilik;
  • die regering se makro-ekonomiese en politieke beleid onsekerheid in die ekonomie skep en beleggersvertroue benadeel; en dat
  • daar onstabiliteit op die linkervleuel van die georganiseerde arbeidwêreld is.
  • Die Beraad is van mening dat:
  • Onsekerheid in die werkplek oor die volgende tien jaar gaan toeneem;
  • heelwat herstrukturering, besigheidsreddingsprosesse en likwidasies gaan plaasvind;
  • die onstabiliteit binne COSATU tot meer onstabiliteit en radikalisme in die werkplek gaan lei;
  • die regering sy ideologie van rasseverteenwoordiging gaan verskerp;
  • al hoe meer en veral Afrikaanse werknemers by klein en mediumgrootte organisasies gaan werk waar hulle nie kollektief beskerm is nie;
  • lewenslange leer ʼn voorvereiste vir oorlewing in die arbeidsmark gaan wees;
  • maatskappye meer op hul kernbesigheid gaan fokus en minder dienste aan werknemers gaan lewer; en dat
  • werknemers al hoe meer self die verantwoordelikheid sal moet aanvaar vir hul pensioenvoorsiening, mediese dekking en opleiding.
  • Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word, naamlik:
  • Die uitbreiding van Solidariteit se regsafdeling om mense in die werkplek te ondersteun;
  • die skuif wat Solidariteit gemaak het om toenemend individuele diens te lewer;
  • die uitbreiding van Solidariteit se telefoniese dienssentrum om individuele hulp meer toeganklik te maak;
  • die vestiging van Solidariteit Finansiële Dienste om lede by te staan met aftreebeplanning en beleggingsadvies;
  • Solidariteit se aksies om die regering se rasse-ideologie uit te daag;
  • die loodsing van die kubervakbond, Solidariteit Wêreld, waar werknemers onder meer mediese advies, beleggingsadvies, regsadvies en loopbaanadvies kan kry en wat inligting bied oor welstand, die handhawing van ’n balans tussen werk en gesin, en so meer; en
  • Solidariteit se opleidingsinisiatiewe soos Sol-Tech, Akademia en die Solidariteit Helpende Hand wat jongmense en werknemers toerus met kennis.
  • Daarom besluit die Beraad dat:
  • Die Solidariteit Wêreld uitgebou word tot ʼn omvattende platform wat alles oor die wêreld van werk in Afrikaans sal bied;
  • Solidariteit sy strategie van werksbeskerming sal uitbou sodat mense in onsekere tye toegang tot hulp en ondersteuning sal hê;
  • Solidariteit sy inisiatiewe om mense met kennis toe te rus, sal versnel; en dat
  • Solidariteit sy aksies teen die regering se rasse-ideologie sal verskerp.
  1. Verlig, verbreek en voorkom Afrikanerarmoede
  • Die Beraad neem kennis dat:
  • Die regering se rasse-ideologie bevordering en indiensname van Afrikaners bemoeilik;
  • swart ekonomiese bemagtiging ook beperkings op ondernemerskap plaas;
  • Solidariteit Helpende Hand veral toenemend probleme met kosvoorsiening by Afrikaanse kleuterskole ondervind;
  • daar, in weerwil van ʼn welvarende elite, ’n toename in Afrikanerarmoede is, veral in plattelandse gemeenskappe;
  • goeie opleiding die beste manier is om armoede onder jongmense te verbreek; en dat
  • finansiële studiehulp vir Afrikaanse kinders moeiliker bekombaar en in talle gevalle onmoontlik geword het.
  • Die Beraad is van mening dat:
  • Afrikanerarmoede ʼn stille armoede is waaroor min gepraat en waaraan te min gedoen word;
  • onder-indiensname, ingevolge waarvan mense nie volgens hul volle potensiaal in die ekonomie opgeneem word nie, aan die toeneem is;
  • gemeenskappe strukture moet vestig om armoede in hul omgewing te help verlig;
  • maatskaplike ondersteuning veral vir weerloses, soos ouer mense, gestremdes en kinders, gegee moet word;
  • hulpverleningsprogramme nie mense wat kan werk van hulp afhanklik moet maak nie, maar hulle eerder uit armoede moet lei;
  • standpunt ingeneem moet word teen die uitsluiting van arm wit mense van studie- en beursprogramme; en dat
  • Afrikaanse kapitaal gemobiliseer moet word om jongmense toegang tot studies te gee.
  • Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word, naamlik:
  • Die Solidariteit Helpende Hand se landswye takke wat help met armoede-verligting;
  • die Skooltassieprojek wat reeds 25 000 skooltassies vir behoeftige graad 1’s versprei het;
  • die Kosblikkieprojek wat kos aan 4 100 kleuters voorsien;
  • die R26 miljoen wat vanjaar deur die Solidariteit Helpende Hand aan Afrikaanse studente vir studiehulp uitbetaal is;
  • die Solidariteit Helpende Hand se Skolesentrum wat Afrikaanse skole help om uitnemend te wees; en
  • die inisiatiewe wat help om Afrikaanse kinders suksesvol in Wiskunde te maak.
  • Daarom besluit die Beraad dat:
  • Die Solidariteit Helpende Hand ondersteun moet word om takke in elke gemeenskap te vestig om armoede te verlig, verbreek en te voorkom;
  • die Solidariteit Helpende Hand gehelp moet word om die Skooltassie- en Kosblikkieprojekte verder uit te bou;
  • die Solidariteit Helpende Hand ondersteun moet word om sy skolesentrum uit bou om sodoende te help om Afrikaanse onderrig uitnemend te hou; en
  • die Solidariteit Helpende Hand se studiefonds uitgebou moet word om binne drie jaar R100 miljoen per jaar aan Afrikaanse studente uit te betaal.
  1. Die impak van verteenwoordigendheid op Afrikaans en toegang tot universiteitsopleiding vir Afrikaanse studente
  • Die Beraad neem kennis dat:
  • Van die 38 universiteitkampusse in Suid-Afrika nog net twee oorwegend Afrikaans is;
  • selfs dié twee kampusse onder druk is om prosesse in werking te stel om hul studente en dosente verteenwoordigend te maak van die land se rassedemografie;
  • die visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU) die struktuur van die universiteit wil verander sodat kampusse nie meer eie taalkarakters sal hê nie;
  • die Universiteit van Stellenbosch (US) tot so ’n mate getransformeer is dat nie meer van ʼn Afrikaanse universiteit met ʼn Afrikaanse karakter gepraat kan word nie;
  • die ander tradisioneel Afrikaanse universiteite bloot Afrikaans as ʼn kleiner-wordende deel van hul programaanbod het; en dat
  • argumente oor toegang gebruik word om Afrikaans, maar spesifiek Afrikaners, te “transformeer.”
  • Die Beraad is van mening dat:
  • ʼn Proses om Suid-Afrika se rassedemografie op alle kampusse te weerspieël die noodwendige gevolg sal hê dat Afrikaans op kampus sal verdwyn;
  • die kampusse, indien daar nie ʼn ingryp is nie, uiteindelik in ooreenstemming met die demografie van Suid-Afrika swart en Engels sal wees; en dat
  • die gees en bedoeling van die Grondwet van Suid-Afrika deur die ideologie van verteenwoordigendheid in tersiêre onderwys ondermyn word.
  • Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word, naamlik:
  • Die verkiesing van pro-Afrikaanse raadslede tot die onderskeie universiteite se rade;
  • openbare druk op die universiteite om Afrikaans as onderrigtaal te handhaaf;
  • mobilisering van studente vir Afrikaans op die kampusse;
  • gesprekke met die regering oor Afrikaans op kampusse; en
  • die stigting van Akademia, wat reeds twee grade aanbied en aansoek gedoen om nog drie grade aan te bied, as ʼn nuwe Afrikaanse universiteit.
  • Daarom besluit die Beraad dat:
  • Voortgegaan moet word met die uitoefening van druk en mobilisering om Afrikaanse by bestaande universiteite te beskerm;
  • voorwaardes in plek geplaas moet word om met die regering te beding om Afrikaans op universiteite deel van ʼn opvolgskikking te maak; en dat
  • Akademia uitgebou moet word as ʼn wêreldklas- Afrikaanse privaat universiteit.
  1. Die kriminalisering van die Afrikaner se geskiedenis

Die Beraad neem kennis dat:

  • die Regering hernieude pogings loods om Afrikanergeskiedenis die hand van die heersende party se ideologiese uitgangspunte te kriminaliseer.
  • die regering die kriminalisering van Afrikanergeskiedenis nodig ag om die regering se rassebeleide en diskriminasie te regverdig.
  • Afrikanergeskiedenis in skoolhandboeke wemel van feite foute en valse voorstellings.
  • Die Minister van Kuns en Kultuur van voorneme is om die geskiedenis kurrikulum verder te transformeer.
  • Dit skokkend is om waar te neem hoe jong Afrikaners se kennis van die geskiedenis eenvoudig verdwyn het

Die Beraad is van mening dat:

  • Sonder Afrikanergeskiedenis kan daar geen kulturele selfvertroue wees nie.
  • Afrikaners nie langer hulle geskiedenis kan oorlaat in die hande van Universiteite se Geskiedenisdepartemente of skoolkurrikulums nie.
  • Afrikaners self eienaarskap moet neem om hulle geskiedenis aan die volgende geslag oor te dra.
  • Alternatiewe vir die geskiedenisskoolkurrikukum ontwikkel moet word.

Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word:

  • Die FAK het die eerste Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis ontwikkel om gesinne en families by te staan met hulle verantwoordelikheid van geskiedenis- oordrag.
  • Deur die internetmuseum is Afrikanergeskiedenis toegangklik in elke huishouding, tablet, slimfoon en klaskamer.
  • Die FAK ontwikkel met behulp van ’n vakadviseur lesplanne vir Afrikanergeskiedenis wat aanvullend tot skoolkurrikulums gebruik kan word.
  • Daarby het die FAK ’n ruimte geskep vir Afrikanerorganisasies om gratis hulle trotse geskiedenis te vertel.
  • FAK ’n voltydse Afrikaanse taal- en geskiedenisnavorser aangestel het wat saam met verskeie meewerkende akademici fokus op Afrikaanse taal- en Afrikanergeskiedenisnavorsing.
  • Die FAK publiseer biografiese profiele van Afrikaanse digters, skrywers, staatsmanne en helde en hou Afrikaners se historiese dagboek en Afrikaanse kultuuralmanak op datum.
  • Deur middel van die NP van Wyk Louw-sentrum word jaarliks verskeie publikasies wat verband hou met historiese en kulturele herdenkingsgeleenthede aan ons FAK-vriende beskikbaar gestel.
  • Die FAK met verskeie Geloftekomitees skakel om die oordrag van Afrikanergeskiedenis breër te koördineer.
  • Die FAK later vanjaar ’n Afrikanergeskiedenisberaad aanbied vir geskiedenisonderwysers om ten einde Afrikanergeskiedenis te bevorder.
  • Historiese navorsing en publikasies wat gratis aan FAK vriende beskikbaar gestel word.
  • Die FAK kulturele herdenkingsdae vier byvoorbeeld De la Rey 100, Afrikaanse Bybel 80, Groot Trek 175.

Daarom besluit die beraad dat:

  • Afrikanerorganisasies versoek word om hulle geskiedenis op die internetmuseum te publiseer.
  • Afrikaners uit die vorige staatsdiens hulle prestasies boekstaaf vir publikasie op die internetmuseum.
  1. Die vandalisering van Afrikanermonumente en die regering se planne daarmee

Die Beraad neem kennis dat:

  • Afrikanermonumente op openbare plekke deur vandale geteiken word.
  • Die Minister van Kuns en Kultuur van mening is dat die kulturele landskap oorheers word deur apartheids en koloniale simbole en dat die Departement dit spoedeisend wil vervang met sogenaamde “inklussiewe” versoeningssimbole en helde uit die struggle geskiedenis.
  • Die Departement van Kuns en kultuur ‘n resolusie wat voorgestel het dat wanneer besluit word om openbare standbeelde van onder meer apartheidsleiers te verskuif, dit nie aan die Afrikaner-gemeenskap vir bewaring gegee moet word nie, maar in sogenaamde temaparke opgeneem moet word waar hulle in konteks vir besoekers as menseregteskenders uitgebeeld kan word.
  • Gemeenskapinstellings soos die Vegkop-direksie, Vriende van die Tolhuis, Kaapland Voortrekkers se museum op Wemmershoek, Valsrivier Erfenisstigting, Centurion Erfenisstigting, Vriende van die Bron van Herinnering, Vriende van die Ou Presidensie, Bloedrivier Geloftekomitee wat Wasbank- monument weer nuut opgerig het, Sarel Cilliers museum op Doornkloof Voortrekkerplaas en vele ander op plaaslike organisasies met min menslike en finansiële hulpbronne uitnemende werk doen om Afrikaner kultuurgoedere en erfenisterreinne te bewaar.

Die Beraad is van mening dat:

  • dat ʼn kultuur van wedersydse erkenning en respek bevorder moet word deur vir almal se erfenis en standpunte ruimte te skep.
  • diverse geskiedenis verantwoordelik en sensitief behoort hanteer te word
  • die huidige debat misbruik word om transformasie op elke moontlike terrein van erfenisbewaring te probeer bespoedig, in lyn met die strewes verwoord in die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie-dokument.
  • Afrikanerbeelde en monumente nie sondermeer geskuif moet word nie, maar dat druk op die regering geplaas word om openbare beelde te beveilig.
  • Indien Afrikanerstandbeelde nie meer in die openbaar welkom is nie, skep dit die indruk dat Afrikaners self ook nie meer welkom is nie.
  • In uitsonderlike gevalle waar dit onafwendbaar raak dat bedreigde Afrikanerstandbeelde uit openbare plekke verwyder moet word, moet Afrikaners self besluit wat met die beelde moet gebeur en moet van toegang tot hulle belastingeld kry om die beelde te skuif en na die beelde om te sien..
  • Afrikanerbeelde wat wel geskuif word, moet binne historiese konteks geplaas moet word waar hulle op langtermyn volhoubaar beveilig kan word.
  • Dat Afrikanergemeenskapinstellings wat fokus op erfnisbewaring sterker ondersteun behoort te word.

Die Beraad steun die aksies wat reeds geneem word:

  • Die Erfenistigting en Afriforum se gesprekke met die toepaslike owerhede aan die hand van bestaande wetgewing.
  • Die skakeling van die FAK met plaaslike Afrikanergemeenskapinstellings wat fokus op die bewaring van Afrikanerkultuurgoedere en erfenisterreine.
  • Navorsing deur die FAK oor strategiese alternatiewe om Afrikanerstandbeelde en erfenisterreinne volhoubaar te beveilig.

Daarom besluit die beraad dat:

  • Afrikanerorganisasies aangemoedig moet word om as lede van die Erfenisstigting aan te sluit.
  • Afriforum druk op die owerhede te plaas om Afrikanerbeelde te beveilig en die minister se resolusie om Afrikanerbeelde in ‘n staatskonsentrasiekamp te plaas teë te staan.
  • Dat AfriForum en die Erfenisstigting versoek word om te beding dat Afrikaners as belastingbetalers geregtig is om staatsbefondsing te bekom om self om te sien na standbeelde wat wel geskuif word.
  • Dat die Erfenisstiogting versoek word om saam met sy lede konsensus oor strategiee te bereik voordat daar met die owerheid onderhandel word.
  • Dat die FAK aan die hand van die Afrikanererfenisnavorsing ‘n strategiese plan ontwikkel om Afrikaner gemeenskapinstellings se werksaamhede beter te koördineer, aan die breër publiek bekend te stel en volhoubare befondsing te vind.
  1. Gemeenskapsveiligheid en die verslegtende veiligheidstoestand

Die beraad neem kennis dat:

  • geweldsmisdaad toeneem in Suid-Afrika; en dat
  • die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toenemend verswak weens onder meer regstellende aksie en die opeenvolgende politieke aanstellings van polisiehoofde wat nie vanuit die SAPD self kom nie.

Die beraad is van mening dat:

  • die publiek toenemend self binne die raamwerk van die wet, ‘n aktiewe rol sal moet speel om hulself en hulle gemeenskappe teen misdaad te beskerm; en dat
  • die publiek hierdie rol verkieslik in samewerking met die SAPD moet speel as dit kan, maar selfstandig voortgaan as die SAPD nie wil saamwerk nie.

Die beraad ondersteun:

  • die talle gemeenskapsveiligheidsaksies soos die daarstel van buurtwagte wat AfriForum en ander rolspelers reeds landswyd in plaaslike gemeenskappe van stapel gestuur het.

Daarom besluit die beraad dat:

  • AfriForum en ander rolspelers versoek moet word om die daarstel van gemeenskapsveiligheidsaksies te versnel, sodat daar landswyd ‘n netwerk van gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe bestaan; en dat
  • ‘n doelgerigte poging deur AfriForum aangewend moet word om te verseker dat daar landswyd goeie kommunikasie en samewerking tussen die onderskeie gemeenskapsveiligheidsaksies bestaan, om ‘n gesamentlike front teen misdaad te vorm.
  1. Groeiende rasse-onverdraagsaamheid

Die beraad neem kennis dat:

  • rasseverhoudings in Suid-Afrika ‘n nuwe laagtepunt bereik het; en dat
  • hierdie verslegtende groepsverhoudings sigbaar is in die vlaag Xenofobiese geweld, vandalisering van Afrikanerstandbeelde en polariserende uitsprake deur politieke leiers.

Die beraad is van mening dat:

  • die Zuma-regering primêr verantwoordelik is vir die groeiende polarisasie, weens onder meer die regering se groeiende rasbeheptheid op elke terrein van die samelewing;
  • president Zuma se uitspraak dat al die land se probleme met die aankoms van Jan van Riebeeck begin het, ‘n rassistiese poging is om wittes oor die algemeen en Afrikaners in besonder tot sondebokke te verklaar, wat verdien om as slaansakke in die land se politieke diskoers te dien; en dat
  • die groeiende polarisasie wat hieruit voortvloei tot nadeel van almal in die land is.

Die beraad ondersteun:

  • die doelgerigte pogings wat instellings van die Solidariteit Beweging aanwend ter bevordering van wedersydse erkenning en respek tussen die land se onderskeie gemeenskappe;
  • die Solidariteit Beweging se standpunt dat Afrikaners die morele hoë grond moet beset deur hulle te distansieer van alle rassistiese uitsprake, ongeag wie dit maak.

Die beraad besluit om:

  • AfriForum te versoek om regstappe te neem teen enige leier wat kwetsende uitsprake rakende Afrikaners maak;
  • ‘n beroep op Afrikaners te doen om hulle te weerhou van enige kwetsende uitsprake teenoor ander gemeenskappe in die land, selfs in gevalle waar populistiese leiers hulle uitlok; en om
  • ‘n beroep op almal in die land te doen om aktief mee te werk om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder.

Die aanslag op Afrikaanse skole

Die beraad neem kennis dat:

  • die staat tans ‘n doelgerigte veldtog teen enkelmedium Afrikaanse skole voer om hulle taalbeleid te wysig; en dat
  • die veldtog onder meer behels dat Afrikaanse skole gedwing word om na dubbelmedium instellings oor te skakel en om te poog dat beheerliggame van Afrikaanse skole saam moet smelt met die van skole met Engels as voertaal.

Die beraad is van mening dat:

  • die owerheid se argument dat hulle toegang vir leerlinge wat Engels as voertaal verkies wil verseker, niks anders is as ‘n dekmantel wat misbruik word om ‘n anti-Afrikaanse agenda te bevorder en van Afrikaanse skole ontslae te raak nie; en dat
  • die onlangse geskiedenis bevestig dat die oorskakeling van Afrikaanse skole en ander onderwysinstellings na ‘n dubbelmedium status, bloot die eerste stap is op die pad om ‘n instelling uiteindelik totaal te verengels.

Die beraad ondersteun:

  • die internasionaal erkende beginsel dat kultuurgemeenskappe die reg op skole het waar hulle kultuur oorgedra en hulle kinders in hulle moedertaal onderrig word;
  • skole se beheerliggame en beheerliggaaminstansies wat bereid is om die staat se anti-Afrikaanse agenda teen te staan; en
  • die feit dat AfriForum Afrikaanse skole finansieel bystaan om regsaksies te kan voer ter behoud van Afrikaans as voertaal.

Daarom besluit die beraad om:

  • ‘n beroep op Afrikaanse skole se beheerliggame te doen om nie te swig voor die owerheid se onregmatige pogings om skole se taalbeleid te verander nie;
  • AfriForum te versoek om voort te gaan om skole wat hulle Afrikaanse status wil beskerm, finansieel by te staan om die aanslag deur regstappe af te weer; en om
  • die Solidariteit Beweging te versoek om as deel van die voorgestelde taakspan se ondersoeke, ook werkbare voorstelle te maak oor hoe ons gemeenskap groter inspraak in ons kinders se onderwys kan kry.
  1. Die verval van Munisipaliteite in die land

Die beraad neem kennis dat:

  • munisipaliteite in ‘n krisis verkeer;
  • minder as 8% van munisipaliteite ‘n skoon oudit ontvang het;
  • slegs 25% van watervoorsieningstelsels voldoen aan die gestelde standaarde;
  • 72% van stortingsterreine nie aan omgewingsvereistes voldoen nie;
  • 31% van riool-stelsels in ‘n kritiese toestand verkeer;
  • munisipaliteite Eskom meet as R4,6 miljard skuld; en dat
  • 34% van munisipale betuurders nie oor die vereiste kwalifikasies beskik nie.

Die beraad is van mening dat:

  • die ANC-regering se beleid van kaderontplooiing en regstellende aksie, daarvoor verantwoordelik is dat onbekwame persone in sleutelposisies aangestel word, bloot op grond van hulle party-politieke verbintenis tot die ANC;
  • dat die beleid van kaderontplooiing die enkel grootste oorsaak vir die verval van munisipaliteite is.

Die beraad ondersteun:

  • AfriForum se plaaslike takstrukture se aksies om wanfunksionerende munisipaliteite verantwoordbaar te hou;
  • die selfdoen aksies wat AfriForum se plaaslike takke aanpak om onder meer self dorpe skoon te maak, paaie te teer, waterpompe te herstel, watergehalte te toets en vullisterreine te evalueer.

Daarom besluit die beraad om:

  • ‘n beroep op die ANC te doen om sy beleid van kaderontplooiing te heroorweeg;
  • AfriForum te versoek om sy netwerk van 125 plaaslike takke verder uit te brei en te versterk, sodat munisipaliteite oor ‘n wyer front tot verantwoording geroep kan word; en om
  • te vra dat AfriForum sy lys van selfdoenaksies, wat plaaslike gemeenskappe kan aanpak, verder uit te brei en so wyd moontlik tot uitvoering te bring.
  1. Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme

Die beraad neem kennis dat:

  • dit ‘n internasionaal erkende beginsel is dat minderheidsgemeenskappe en –volke die reg het om besluite te neem oor sake wat hulle as minderheid direk raak;
  • hoewel die Suid-Afrikaanse Grondwet beperkte voorsiening vir die regte van kultuurgemeenskappe maak, daar al minder politieke ruimte is;

Die beraad is van mening dat:

  • ‘n omvattende en werkbare plan, gegrond op internasionale voorbeelde, daargestel moet word in terme waarvan Afrikaners inspraak kan kry oor sake wat hulle direk raak en dat hulle selfstandig kan beskik oor hulle eie toekoms.

Die beraad ondersteun:

  • die reeks selfdoenaksies wat reeds deur die onderskeie instellings van die Solidariteit Beweging aangepak word;
  • die selfstandigheidsinisiatiewe wat reeds landwyd op plaaslike gemeenskapsvlak uitgevoer word, in gebiede waar Afrikaners ‘n minderheid vorm, asook in ‘n gebied soos Orania waar Afrikaners ‘n meerderheid vorm.

Daarom besluit die beraad:

  • om die Solidariteit Beweging te versoek om die reeks selfdoenaksies, soos onder meer opleidingsaksies soos Sol-tech en Akademia, asook selfstandige gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe, verder uit te brei.
  • om die voorgestelde taakspan te versoek om ondersoek in te stel na voorbeelde van hoe gemeenskappe internasionaal inspraak kry oor sake wat hulle direk raak en prakties uitvoerbare voorstelle te maak oor hoe Afrikaners groter inspraak kan kry oor sake wat hulle direk raak. Hierdie voorstelle moet alle ruimtes in die Grondwet en internasionale reg ontgin, vanaf kulturele selfstandigheid tot gebiedsgebonde selfstandigheid. Ons kan nie bekostig om enige deur toe te maak wat daar in terme van die Grondwet internasionale beginsels bestaan nie.

 

 

 

 

  • Volg ons op Twitter